Gedagte vir die dag:  Flenters

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 31:9-16

My tye is in u hand. Red my uit die hande van my vyande en vervolgers! (Psalm 31:16)

My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak … (v. 11).  Almal weet teen hierdie tyd dat jou lyf en jou gees intiem met mekaar verweef is. Dit is dus nie verrassend nie dat dié psalmdigter se geestelike stryd ook in sy liggaam woed. Sy hartseer en kommer kry hul lê in sy lyf; sy uitgeteerde liggaam is die getuie van die ellende in sy siel.

En omdat dié seer sigbaar is, word hy boonop die skyf waarna sy teëstanders korrel. Hulle lag hom uit. Hulle beraam allerlei planne om hom finaal te vernietig.

Op hoop van seën hardloop die bekendes ook van hom af weg. Jy word tog aan jou vriende geken, en niemand wil saam met hóm gesien word nie. Daarom los hulle hom om maar eenkant te lê en vergaan. Daar, op sterwe na dood, hoor hy hoe planne gesmee word om hom ’n nekslag te gee.

Maar dan, asof met sy laaste krag, beur hy orent en sê: “Ek vertrou op U, Here …” (v. 15). Hy kry ’n laaste kreet uit – en hy stort hom in die Here se hande.

Dit is mos die Godskind se laaste toevlug: Wanneer jy ’n in- eenstorting beleef, gebeur dit in jou God se hande. Hy vang jou, hy verhoed onherroeplike breekskade. En met verloop van tyd maak Hy die flenters bymekaar. Maak Hy jou weer, stukkie vir stukkie, heel.

Ja, ons sal nog lank, en dalk vir altyd, die littekens dra. Maar dan veral as ’n herinnering aan die ingrype van ons God op daar- die dag toe ons gedink het alles is verby. In sekere sin was dit toe mos die begin …

Ek pas sekuur in u hand, Here, Herskepper van my lewe.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie dat U alleen die seggenskap het oor my lewe. Al die Lof en Eer aan ons Opgestane Heer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.