Gedagte vir die dag: Fokus op Christus

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is. (1 Tessalonisense 5:16-18)

Hierdie drie verse bevat drie opdragte wat oënskynlik onmoontlik is om na te kom. Die probleem lê by “altyd”, “moenie ophou nie” en “in alle omstandighede”. Ons wonder hoe dit moontlik sou wees om altyd vol blydskap te wees, aanhoudend te bid en altyd dankbaar te wees – veral in tye wanneer lyding oor ons pad kom, onhanteerbare probleme opduik of erge konflik losbars. Tog is dit wat God in Christus van ons verwag. Dit is God se wil vir ons.

As ons onthou dat ons aan Christus behoort en nooit vergeet wat Hy aan die kruis vir ons gedoen het nie, hoe Hy op hierdie oomblik vir ons intree, en wat Hy belowe het om in die toekoms vir ons te gee, kán ons deurlopend blymoedig en dankbaar wees en in gebed al ons behoeftes aan God bekendmaak terwyl ons sy leiding soek.

Vreugde kom van die wete dat God ons liefhet. Dankbaarheid is die gevolg van die wete dat God in elke situasie in ons lewe aan die werk is. En volgehoue gebed is die natuurlike reaksie van mense wat bevoorreg is om in ’n hegte verhouding met hulle Skepper en Verlosser te lewe.

Let op dat God nie van ons verwag om dankbaar te wees vir alle omstandighede nie, maar dat ons Hom moet dank in elke omstandigheid. Ongeag wat met ons gebeur, God is altyd daar en Hy is besig om alles ten goede te laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet (Rom. 8:28).

Is jy altyd bly? Bid jy gedurig? Is jy in alle omstandighede dankbaar? Onthou dat dit God se wil vir ons is. Maak dit ’n werklikheid in jou daaglikse lewe.

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lena Jonk ·

Dankbaarheid word dan n krag tot aktiewer deelname aan die lewe. Die lewe bewaar meestal sy geheim. Tog kom n uur wanneer jy verwonderd vasstel hoe daar in teespoed n geskenk aanwesig was, wat jy nooit verwag het nie.

GL ·

Dankie dat U by my is in alle omstandighede Here. Dit gaan nie altyd maklik in die wereld van vandag maar ek vertrou in U, Amen.

christine ·

Baie dankie dat U ons bystaan en dankie dat ons mag bid en glo, Heer u genade is groot U is die Meester en ons u leerders, baie baie dankie dat ons kinders van God genoem mag word en trots daarop mag wees.AMEN

Kornel ·

Dit is moeilik. Dit is amper ontmoontlik. Veral as die pad lank raak en langer raak. Om sonder werk te sit, agterstalige rekeninge en n wonderlik baba seuntjie wat vinnig oppad is. Maar dit is lekker om elke oggend te begin met die woord van God. Rustig te lees en te bid. Mag almal die Here se liefde ondervind vandag. Amen. GeSeende dag vir almal.

HouHoop ·

Dankie onse Heer, dat U ons altyd bystaan en U Wonderlike Raadsplan besig is om uit te speel, of dit goed of sleg met ons gaan. Ons vertrou U en weet dat U ons eendag na die nuwe wereld toe sal vat. Gee ons U genade en die dankbaarheid en vertroue wat ons behoort te he, elke dag. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.