Gedagte vir die dag: Gaan in vrede

vrede_berg_see_arms-uitgestrek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jou geloof het jou gered; gaan in vrede. (Lukas 7:50)

Daar is storms in ’n mens se hart as jy nie seker is dat jy deur God vrygespreek is nie. Daar is ’n onrustigheid in elke mens, het Augustinus gesê, totdat ons in God rus gevind het. Daar is soveel dinge wat onvrede in ons lewe bring. Maar dit spruit alles uit ’n versteurde verhouding met God. Wanneer ons dinge met Hom reggemaak het en onsself in sy magtige hand geplaas het, kan ons ook sing: “Dit is wel, dit is wel met my siel!” As ons egter nie wel voel nie, is dit óf omdat ons nie glo nie, óf omdat ons nog nie dinge met God reggemaak het nie.

Telkens wanneer Jesus mense bedien het, het Hy vir hulle gesê: “Gaan in vrede!” Dit is of Jesus die onvrede en storms in ’n mens se hart aangespreek het en daardie dierbare mens voor Hom wou wegstuur met ’n nuwe rus en kalmte wat hy nog nooit vantevore ervaar het nie. Die vrede van God wat bo ons begrip is, soos Paulus sê: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7, Bybel in Afrikaans 1983/1992). Ons God is ’n God van vrede en Hy bewerk vrede in die hart van sy mense.

Watter onvrede daar ook al vandag in jou hart is, lê jou neer aan die voete van Jesus. Praat jou hart teenoor God uit. Spreek die storms in jou lewe aan, praat met die golwe, kyk die turbulensie in die oë. Laat toe dat Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding weer nuwe betekenis kry in jou lewe en hoor dan sy stem: “Gaan in vrede.” Gaan. Ja, selfs wanneer jy in ’n onstuimige wêreld instap, sal sy vrede jou omvou.”

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.