Gedagte vir die dag: Gaan jy enduit saam met Jesus?

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het”. (Lukas 22:28)

Dit is waar dat Jesus Christus altyd by ons bly wanneer ons in versoeking kom, maar gaan ons altyd enduit saam met Hom deur sý versoeking? Baie van ons is geneig om van Jesus af weg te draai, die oomblik wanneer ons ervaar het wat Hy kan doen. Kyk maar na die tyd toe Jesus jou omstandighede verander het en bepaal self of jy verder saam met Hom gegaan het, of jou toe aan die kant van die wêreld, die vlees, of die duiwel, geskaar het. Ons dra wel sy Naam, maar gaan ons werklik enduit saam met Hom? Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie (Joh. 6:66).

Die versoeking wat Jesus moes deurstaan, het dwarsdeur sy aardse lewe voortgeduur, en so sal dit dwarsdeur die lewe van die Seun van God ín ons voortduur. Gaan ons saam met Jesus in die lewe wat ons op hierdie oomblik leef?

Ons handhaaf die siening dat ons onsself moet beskerm teen sommige van die dinge wat God oor ons pad bring. Mag dit tog nooit die geval wees nie! Dit is God wat ons omstandighede bewerkstellig en ongeag wat hierdie omstandighede ook al mag wees, moet ons sorg dat ons dit aanvaar terwyl ons voortdurend in Hom bly te midde van versoekings. Hierdie versoekings is Syne, en nie ons s’n nie. Dit is versoekings wat gerig is op die lewe van die Seun van God in ons. Dit is die eer van Jesus Christus wat op die spel is in ons lewe. Bly ons deurentyd getrou aan die Seun van God te midde van alles wat sy lewe in ons aanval en bedreig?

Gaan jy enduit saam met Jesus? Die pad gaan deur Getsemane, deur die stadspoort tot … buitekant die laer … (Heb. 13:13). Dit is ’n eensame pad wat aanhou totdat daar later nie meer die geringste teken van ’n voetspoor is om te volg nie, slegs maar die stem wat sê: “Volg My” (vgl. Matt. 4:19).

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U ons nooit ooit alleen laat nie…..onverdiende guns..Amen

Kwikkie12 ·

Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Mattheus 7:14

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.