Gedagte vir die dag:  Gaan roep dit uit!

hawaii-berge_wolke_valleie_Pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 62:6-12

Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: “Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!” (Jesaja 62:11)

Dit is Tweede Kersdag. Dit is ’n dag vir oorskiet en die gevolge van ooreet. Almal is ’n bietjie tam, feesvoos. Wie is tog nou in die bui vir ’n opgewonde profeet se grootoog-boodskap?

Maar hoor dan nou hoe roep hy: Die uitkoms vir Jerusalem is hier! Die geslagte lange ballingskap is verby!

Dit is die troosryke, hoopvolle boodskap wat die profeet aan sy platgeslane volk bring. In daardie tydlose profetestyl gaan staan hy as ’t ware met ’n megafoon voor sy mense en praat in kort, kragtige sinne. Roep hy sy mense op om die Goddelike beloftes ter harte te neem.

Uiteindelik moedig hy sy toehoorders aan om skouer aan die wiel te sit en hierdie beloftes waar te maak. Só: “Gaan uit … maak die pad gereed … Vul die grootpad op … Vat weg die klippe! … Steek ’n banier op dat die volke dit kan sien!” (v. 10).

Ag, net nie vandag nie, tog net nie op hierdie dag nie … Wanneer dan? Watter dag is vir jou die beste om te hoor van ’n God wat sy beloftes hou? Van ’n profeet wat sê julle moet vir almal gaan vertel dat dit ’n saak vir die hele wêreld is?

Die dag ná Kersfees? Die dag ná die oorvloed? Is daar op hierdie dag, juis op hierdie dag, dalk ’n manier om ’n banier vir jou God in die lug te steek? Om op ’n manier ’n klip of twee uit die pad te rol? Dat almal dit kan sien? Wat van al daardie oorskietkos …?

Ek voel nog die oordaad aan my lyf, Here. Maak my moeë oë oop vir hulle wat vandag smag na wat ek gister beleef en geëet het.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.