Gedagte vir die dag: Die gawes van die Gees

 heart-791870_1280.jpg

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om God se boodskap te verkondig. (1 Korintiërs 14:1)

God het die mens gevorm uit die stof van die aarde, hom lewe en lief­de gegee en vir hom ’n pragtige tuin aangelê met alles wat hy nodig gehad het om te oorleef. Vir Hom was die mens ’n besliste hoogtepunt. Hy het iemand gemaak wat sy skepping saam met Hom kon waardeer en versorg, wat ook vir mekaar sou omgee en hul werk en talente onderling sou kon beskikbaar stel, iemand met emosies en geestelike gawes wat Hom sou eer en liefhê en liefde met ander sou kon deel.

Eeue later herhaal Paulus hierdie gedagte as opdrag in sy brief aan die Korintiërs wanneer hy hulle aanmoedig om bo alles mekaar en ander lief te hê. Hy het pas sy ode aan die liefde geskryf, ’n hartroerende betoog wat ons almal ken en verstaan. Dan begin hy die volgende deel van sy brief met: ‘Julle moet die liefde nastreef.

Hy wys hulle op verstandige, duidelike woordverkondiging. Die spreek in tale word op nugter, praktiese wyse vasgevat en die Korintiërs word aange­moedig om die boodskap van die evangelie verstaanbaar en duidelik met me­kaar en met ongelowiges te deel.

Vir ons as gelowiges is dit ’n liefdestaak wat ons nie ter verheerliking van onsself moet uitvoer nie, maar tot heerlikheid en eer van God. Dit is die een taak wat ons nie durf verwaarloos nie; trouens, Paulus vra ons om ons daar­op toe te lê. Om die regte woord op die regte tyd te sê, is ’n gawe van die Gees en kan jou dagtaak eindeloos verryk.

Hemelvader, help my om my geestelike gawes met waardigheid uit te leef en om so my gewone dagtaak sinvol met die belangrikste taak van my lewe te kombineer – om u boodskap te verkondig.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

neelsie ·

n Boom word tog aan sy vrugte geken.
Leef so dat jou boom nie net blare het nie .

Ds Jakes ·

Kosbare waarheid – die dag as die Kerk die Boodskap begin lewe , is daar herleweing.

Patricia Morris ·

Mag die Here ons leiding gee om in liefde met mekaar saam te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.