Gedagte vir die dag: Gebed, danksegging en vrede

Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Fil 4:6-7)

Om besorg te wees is so ’n ingebore ingesteldheid by ons. Ons kan onsself net nie help nie. As ons ons kom kry, ontsier die kommerplooie ons gesig en raak ons gespanne. En waaroor al die bekommernisse? Baie keer is dit regtig belangrike dinge. Siekte, werkloosheid en verhoudingsbreuke is nie dinge wat ’n mens met ’n handgebaar van die tafel af vee nie. Maar as jy nou klaar alles in jou vermoë aan die saak gedoen het, sal bekommernis mos nie help nie. Bekommernis is seker een van die heel slegste dokters om in te roep.

Laat jou lewe aan die Here oor, Hy sal sorg.

Paulus sê nie net dat ons oor niks besorg moet wees, en laat dit dan daarby nie. Nee, hy beveel ’n beter Dokter as dokter Besorgdheid aan. Gaan lê jou saak aan die Here voor. Vertel Hom alles – hoe jy voel, wat jy weet, hoe jy dink, wat jou begeerte is. Praat jou hart voor Hom uit. Hy wil graag hoor dat jy Hom regtig vertrou en nie sommer net so terloops by Hom ook probeer nie. En dank Hom. Waarvoor? Dat Hy vir my presies gaan gee wat ek begeer? Nee, dank Hom dat Hy geluister het en gaan antwoord. Hoe en waar en wanneer is God se saak. Jóú saak is om volkome vertroue te hê in God se besluit.

En as jy so ver gekom het, sal jy ’n innerlike vrede ervaar. Dis ’n onbeskryflike vrede. Mense sal vra: “Hoe kry jy dit reg om so kalm te bly?” En al wat jy dan kan antwoord, is: “Dis die Here, dis Hy wat vir my vrede gegee het.”

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dewet Greyling ·

Hierdie is soo waar — as elkeen van ons net by GOD kom skuil — want dis beter om by HOM te skuil, as om op mense te vertrou — dis beter om by HOM te skuil, as om op hoë mense te vertrou! Dit staan presies in die middel van GOD se Lewende WOORD!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.