Gedagte vir die dag: Gebed en vertroue             

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moet oor niks besorgd wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Filippense 4:6-7)

Innerlike vrede is iets waarna ons almal smag, iets wat ons glo ons sal bekom … as dit of dat net verander; of as ek net dit of dat het … of as daardie persoon net …

Soms moet ons fokus op die klein wonderwerkies waar God ons gebede verhoor en waar Hy ons vrede gee omdat ons Hom vertrou.

Ek wil graag getuig van ’n paar klein wonderwerke in my lewe waar ek God se hand so duidelik kon ervaar.

Toe een van my seuns baie klein was, het hy eendag tydens sy swemlesse besonder lank onder water gebly. Ek “wat nie kan swem nie”, was beangs en het biddend my asem opgehou. Toe hy later klaar is, praat ek met hom daaroor en hy verstom my met wat hy sê: “Mamma, toe ek daar onder was en nie kon opkom nie, was daar Iemand by my wat sê: ‘Moenie bang wees nie, Ek is by jou.’ Hy het my hand gevat. Ek dink dit was God!” Ek weet dit was God.

’n Meer onlangse voorbeeld was toe my pa verlede jaar kritiek siek was. My sus wat in Ierland woon, het wonderbaarlik ’n kansellasie gekry op ’n vlug hierheen sodat sy kon kom. Ons het van die lughawe af direk hospitaal toe gejaag sodat sy hom vir oulaas kon sien. Toe hy haar stem hoor en ons almal by hom is, het hy vir die laaste keer sy oë oopgemaak, na ons almal gekyk en gegroet. God het ons gebede verhoor dat sy betyds kon wees en so vrede kon ervaar.

Hemelse Vader, help my om elke dag te besef dat ware vrede net kan spruit uit ’n vaste vertroue in u wil vir my lewe, gehoorsaamheid daaraan en volharding in gebed. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Von ·

Here op nuut bely ek dat U Woord die waarheid is en dit ons vry maak. Amen

Chris ·

God wat nie kan sterf, het Sy Seun gestuur om vir ons sondes te sterf.
Wat ‘n wonderwerk!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.