Gedagte vir die dag: Gebed verander sake

gebed

Argieffoto.

Volhard in die gebed. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is. (Kolossense 4:2)

Iets wat die moeite werd is om te hê, is altyd die moeite werd om voor te bid. Die sleutel tot evangelisasie is gebed; nie mediese hulp, opvoeding of indrukwekkende toesprake nie, slegs gebed uit die hart en niks minder nie. Die enigste verantwoordelikheid wat ons in die lewe het, is teenoor ons Here Jesus Christus. Ons werk vir sy oes; niemand anders s’n nie. Daarom behoort al ons konsentrasie en fokus op gebed te wees – om God se aangesig in elke situasie te soek en na niks of niemand anders te luister nie.

Wat werklik spesiaal is, is die feit dat Christus self ook vir ons bid. Hy is ons beste Voorbidder in hierdie sterwende wêreld. Dit raak ’n mens altyd diep as jy weet dat jou vriende of familie vir jou bid; hoeveel te meer as jy weet die Seun van God bid vir my en jou! Dis wonderlik om te weet dat Jesus ons elke dag in gebed ondersteun. Daarom moet ons nie die Here teleurstel nie; ons moet ook elke dag bid en sy aangesig soek.

Ons moet tyd in gebed en oordenking deurbring, net soos ons Meester, die Here Jesus Christus, sy tyd gebruik het. Moenie nalaat om die “binnekamerwerk” te doen nie, want dis soos die wortel van ’n boom: Die boom kan nie sonder sy wortel sterk word en oorleef as daar sterk winde waai nie. Moenie die belangrikste deel van jou Christelike lewe afskeep nie – daaglikse gemeenskap met ons hemelse Vader. Dis baie belangrik dat ons die eerste vrug van elke dag aan Jesus gee deur soggens vroeg, en ook die res van die dag, tyd in gebed saam met Hom deur te bring. Wanneer jy bid, gaan na ’n stil plek en hou dit persoonlik. Vra die Here om jou op ’n spesiale, vars manier te ontmoet sodat jy sy kragtige teenwoordigheid in jou stiltetyd kan ervaar.

Here, soms onderskat ek die belangrikheid daarvan om elke dag met U te praat. Help my asseblief om my prioriteite reg te kry en om die eerste vrug van my dag vir U te gee. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.