Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste. (Psalm 92:2)
Bid tot My met woorde van lof. Selfs al is daar niks in jou lewensomstandighede wat jou lus maak om My te loof nie, moet jy in elk geval jou lofprysing voor My bring. Nader my genadetroon altyd in lof, want dit maak my hart oop en laat my hand beweeg. Jou lofprysing bring jou gouer na my teenwoordigheid as enigiets anders.
Wanneer jy My loof, skuif jy jou bekommernisse opsy en verheerlik jy My terwyl jy My aanroep om namens jou te werk. Jou gelowige hart deurdring Myne. EK IS in beheer van alles waaroor jy bekommerd is. Ek hou elke detail van jou lewe in my hande. Wanneer jy My prys, sal jy die vaste versekering ontvang dat Ek by jou is; dat Ek in en deur jou omstandighede werk, selfs wanneer jy nie my hand kan sien nie. Jou geloof in My sal jou versterk om jou hoop in my krag te vestig om al jou probleme op te los. Jou geloof vertrou dat Ek die wysheid en mag het om my heel beste in jou lewe tot stand te bring.
Wanneer jy jou vrese moet trotseer en wanhopig voel, is die heel kragtigste ding wat jy kan doen om my Naam te loof en prys. EK IS jou bevryder en Ek verander nooit nie. Jy kan op My vertrou, maak nie saak hoe onmoontlik jou situasie lyk nie. Wanneer jy op jou knieë is met nêrens om te kyk behalwe na Bo nie, bid net deur lofprysing en rus in my teenwoordigheid terwyl Ek my krag vrystel om vir jou vrede te bewerkstellig.