Gedagte vir die dag: Die geboorte van Jesus

Olie_lamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ‘n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ‘n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. (Lukas 2:7)

Dis Jesus se geboortedag. Hoor jy die engelekore? Juig saam met hulle. Sing ‘n loflied vir die koms van die Koning. Hy is in ‘n stal gebore, in Betlehem, ‘n nederige, vuil plek. Maria het Jesus in doeke toegedraai en Hom in ‘n voerkrip neergelê.

Ons kan vandag met die herdenking van Jesus se geboorte juig en sing. Hy is deur die Vader aarde toe gestuur. Jesus bou die brug na ons toe soos ons ‘n paar dae terug gehoor het. Hy reik uit na ons toe. Hy is nou ‘n mens tussen ons.

Jesus steek die groot grens tussen die hemel en die aarde oor. Hierdie ongelooflike liefdesdaad se voorbereiding is getref vanuit die hemel self. God het ons so lief dat Hy sy enigste Seun na ons toe stuur sodat ons kan lewe. Hierdie liefde ken geen perke nie. God het ons oneindig lief; so lief dat Hy nie wil hê ek of jy moet verlore gaan nie. Hy tref voorbereidings sodat ons die ewige lewe kan erf. Ons mag nou vir ewig lewe as ons sy Naam, Jesus, op ons lippe bely.

Vandag juig ek saam met die engele dat Jesus die Seun van God is, my Verlosser en my Koning. Hy het aan die kruis gesterf sodat elkeen van ons tot in ewigheid saam met die Vader kan lewe.

Wees vandag opgewonde saam met jou gesin oor wat die Vader vir julle gedoen het. Neem ‘n oomblik om sy Naam te her-denk. Loof Hom vir sy goedheid vir julle as gesin. Sing ‘n loflied!

Halleluja, ek loof die Naam van die Vader, Seun en die Heilige Gees. Ek loof en prys U, heilige Vader, dat U aan my gedink het toe Jesus gekom het. Deur hierdie wonderdaad red U ons. Ek loof U vir u ongelooflike goedheid teenoor die mensdom. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.