Gedagte vir die dag: Laat niemand jou keer nie

“Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: ‘Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons” (Matt 15:23).

In teenstelling met Sy gewone optrede, sê Jesus niks vir hierdie vrou wat by Hom pleit ter wille van haar dogter wat in die mag van ’n bose gees was nie. Sy het egter nie opgehou roep nie – so anders as ons wat ná die eerste of tweede probeerslag sommer moed opgee. Sy het aangehou, totdat die dissipels later geïrriteerd vir Jesus vra om haar weg te stuur, “want sy hou aan met skreeu hier agter ons” (Matt 15:23). Soos met die vermeerdering van die brood, toe die dissipels net van die skare ontslae wou raak, is daar by hulle geen diep medelye met, of ware omgee vir, hierdie vrou nie.

Daar is ʼn hele paar dinge wat ons by hierdie vrou kan leer. Een daarvan is om nie toe te laat dat ander – veral dié wat rondom Jesus is – ons keer nie. Hier was dit die mense naaste aan Jesus – sy dissipels – wat vir haar ʼn struikelblok was, wat wou keer dat sy iets van Jesus ontvang. Ons hoor dit deesdae meer as ooit tevore: dat Christene, kerkmense, verantwoordelik is daarvoor dat ander niks meer met die Here of met die kerk te doen wil hê nie. Mohandas Gandhi se woorde eggo die sentiment van vele mense: “Ek sou dalk ‘n Christen kon word as dit nie vir Christene was nie.”

Natuurlik is dit verskriklik jammer en ʼn verskriklike aanklag. Uiteindelik kan nie een van ons egter ander mense verantwoordelik hou vir dit wat ons laat verbygaan het nie. Hierin stel hierdie vrou vir ons ʼn voorbeeld: Haar behoefte aan die Here was so groot dat sy haar nie laat ontsenu of laat afsit het nie – nie eens deur die dissipels nie. Volg haar voorbeeld. Moenie toelaat dat enige iemand, selfs ander Christene, ‘n ouderling of ‘n leraar jou ontmoedig nie. Hou aan roep tot God – totdat jy Sy antwoord kry!

Gebed: Help my, Here, dat mense my nie van U af weghou nie. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.