Gedagte vir die dag: Skeppergod, ek wil U eer!

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgHere, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Ps 8:2, 5)

Verwondering – dit is die opskrif wat ek graag aan hierdie psalm wil gee. Dit is hoe ’n mens voel wanneer jy sprakeloos die wonder van God se skepping aanskou. Hoe kan ’n mens anders as om in aanbidding voor God te buig wanneer jy keer op keer deur die een of ander skeppingswonder oorweldig word? Die gedreun van branders, die kleurespel van ’n sononder oor die see, die helder sterrehemel, blomme, berge, oop velde en vlak tes – ag, hoeveel onbeskryflike bewyse is daar nie van God se skeppingsmag nie! Dit laat ’n mens so klein voel.

Dit is seker een van ons grootste foute, naamlik dat ons in ons eie oë so groot wil wees. Ons wil in beheer van sake wees. Ons wil vernaam wees. Maar dis nie hoe God bedoel het dat ons moet wees nie. Jesus het dit tog so duidelik uitgespel dat ons soos kinders moet wees as ons enigsins deel van God se koninkryk wil wees. Kinderlik afhanklik. Klein voor God. Mekaar se dienaars. Eers dan is ons gereed om in kinderlike verwondering voor ons Skeppergod in aanbidding te buig.

En eers dan is ons gereed om te ontdek dat God die mens net weinig minder as ’n goddelike wese geskep het, dat God aan die mens die heerlike voorreg gegee het om oor sy wonderlike skepping te heers, dit te bewaar en verantwoordelik te benut.

Alvorens jy kan heers oor God se goeie skepping moet jy eers in verwondering kan kniel voor die grootheid en heerlikheid van jou Skeppergod.

Word eers klein voor God sodat jy in verwondering die grootsheid van sy skepping kan waardeer.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.