Gedagte vir dag: Gelowiges gee smaak

Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde”.

In Jesus se leeftyd was sout nie net ʼn kosbare en waardevolle kommoditeit nie; die Grieke het dit selfs as goddelik beskou. Dit is ook opvallend dat verskillende offers van die Jode met sout besprinkel moes word. Hierdie woorde van Jesus in Matteus 5:13 is dus ryk aan betekenis. Daar is veral twee toepaslike betekenisse wat aan hierdie woorde van Jesus geheg kan word.

Eerstens word sout as gevolg van die helder, wit kleur daarvan as ʼn simbool van reinheid gesien. In ʼn wêreld waarin daar soveel onreinheid is, is dit in hierdie sin baie betekenisvol dat Jesus ons “die sout vir die aarde” noem. As gelowiges behoort ons lewe van reinheid te spreek. Indien ons hart rein is, sal dit sonder inspanning duidelik sigbaar word in ons woorde, ons dade en ons verhoudings.

Tweedens weet ons dat sout die belangrikste geurmiddel op aarde is. Sout gee smaak aan voedsel. Dit is opmerklik dat Paulus sê: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel” (Kol. 4:6, 1953-vertaling). Die 1983-vertaling interpreteer dit dan ook pragtig: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig.”

Wanneer ons waarlik “sout” is, gee God se mense smaak en sin aan die wêreld. In ʼn bekommerde, onrustige, gejaagde wêreld behoort Christene pilare van kalmte, vrede en rus te wees. In ʼn wêreld wat dikwels depressief en moedeloos is, moet ons lewe spreek van vreugde, onbesorgdheid en hoop.

Die ware kerk behoort die wêreld te laat dink aan feesgangers, nie aan begrafnisgangers nie. Ek weet dit is soms nie die geval nie, maar hierdie woord van die Here roep ons op om waarlik mense te wees wat smaak aan ʼn dikwels smaaklose wêreld gee.

Gebed: “Ek bid dat u Gees my in staat sal stel om vandag ʼn verskil te maak in my wêreld, Here. Amen.”

Outeur: Isak Burger – President van AGS van SA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.