Gedagte vir die dag: God van wonders

lig_boekevat_bos…stemming.jpg

Foto: Reint Dykema

Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep. As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! (Ps 4:4-5)

Ons raak tog so maklik ontsteld oor ’n magdom dinge wat glad nie die ontsteltenis werd is nie. Later lag ons daaroor en sê: “Ek weet nie hoekom ek my so opgewerk het nie!” Maar dan is daar tog ook die swaargewig-probleme wat die ontsteltenis nogal verstaanbaar maak. Dit is gewoonlik die dinge waaroor ek nie onmiddellike beheer het nie. Dit storm op my af, vang my onverhoeds. Ek is nie daarteen opgewasse nie. Ek voel uitgelewer. Help!

En dan roep die digter van Psalm 4 ons tot orde. Raak nou eers rustig. Jy is mos ’n kind van die Here, nie waar nie? Dink nou ’n bietjie na oor die Here se optrede in die lewens van sy kinders, ook in jou eie lewe. Die kere wat jy op die Here vertrou het, het Hy wonders gedoen. Wonders? wil jy vra. Ja, dis ’n wonder wanneer dinge wat buite jou beheer was, uitgewerk het ver bo jou verwagting. Was dit nie die Here wat sake in jou guns laat verloop het nie?

Wees ook van een ding baie seker: die Here hoor as sy kinders na Hom roep. Bly net op Hom vertrou. En ja, bly ook aan Hom getrou. Moet Hom nie maar net as ’n noodmaatreël probeer gebruik nie. Haak by die Here in op jou daaglikse lewenspad. Onthou, dit gaan oor ’n verhouding; nie oor ’n dienskontrak nie. En in ’n verhouding gaan dit mos oor liefde. God het jou lief en daar om sal Hy ook in jou lewe wonders doen.

Dink in stilte na oor hierdie dinge en raak rustig. Laat dit in God se hande.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.