Gedagte vir die dag: Aan die einde van my krag

Argieffoto (Foto: Chris Hilbert/Pixabay)

Mark. 1:40 –  “Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: ‘As U wil, kan U my gesond maak”.

“As U wil …” Hierdie woorde kan vir seker soms in ’n oppervlakkige gebed as stopwoorde of selfs as ʼn rookskerm vir ongeloof gebruik word, veral as ʼn mens oor iets bid waaroor die Bybel reeds God se uitdruklike wil bekendgemaak het. Wanneer jy egter by daardie kritieke kruispaaie in jou lewe kom waar jy regtig nie weet wat om te doen en waarheen om te gaan nie, en jy bid hierdie woorde in ootmoed, erns en met eerlikheid, word dit ʼn uitdrukking van ware geloof. Wanneer ons voor daardie reuse-uitdaging, daardie hoë berg te staan kom en bid: “As U wil …” bely ons daarmee ons vertroue in God se onbeperkte krag, in sy almag.

Dit spreek van diepe afhanklikheid dat jy die einde van jou menslike wysheid en insig bereik het. Jy weet nie meer nie; jy kan nie meer nie. Nou is dit God alleen … Jy bid dit wanneer die pad voor jou donker is; wanneer jy die pad voor jou nie duidelik kan sien nie, en die risiko bestaan dat jy kan verdwaal of groot foute kan maak. Jy bid dit wanneer jy in jou menslikheid klein en swak voel, en jy meer as ooit besef dat jy dit sonder Sy krag en hulp nie gaan maak nie. Hierdie woorde is die nederige erkenning dat alles op Sy wil berus, en dat niks meer van andere verwag kan word nie. Jy bid hierdie woorde wanneer jy, soos hierdie melaatse man, besef dat Hý jou laaste hoop is, en jy jou onvermoë voor sy almag kom neerlê.

Miskien is jy vandag by so ’n kruispad. Dan is dit dalk ook waar ʼn wonderwerk vir jou wag!

Gebed: “O Here, U weet hoe nodig ek U het. Amen.”

Outeur: Dr.Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.