Gedagte vir die dag: Aan God alleen die eer en heerlikheid

(Foto: Danil Aksenov/Unsplash.com)

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae!” (Lukas 2:14).

Skrifgedeelte
Lukas 2:13-20

Oordenking

ʼn Mooi en treffende intrede tot die nuwe jaar is om te begin met die koepeldoel: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde in die mense in wie Hy ʼn  welbehae het!” (Lukas 2:14). Die verhaal van die engele en hulle lofprysing weerklink van musiek en dit inspireer komponiste al meer as 2 000 jaar lank. Dit vorm ook die vertrekpunt van baie eietydse koorwerke, tradisionele Kersliedere en ou liturgiese korale. Wat ʼn aankondiging is dit nie! Die grootste gebeurtenis in die ganse geskiedenis het pas plaasgevind. Die Messias is gebore. Baie eeue lank is hiervoor gewag, en toe dit uiteindelik gebeur, is die nuus aan nederige skaapwagters vertel. Die Goeie Nuus van Jesus is dat Hy na almal toe kom, ook na doodgewone mense.

Wie jy ook al is en wat jy ook al doen – jy kán Jesus in jou lewe hê. Jy het nie buitengewone eienskappe of kwalifikasies daarvoor nodig nie. Hy aanvaar jou net soos jy is. Sommige van die Jode het verwag dat die Messias hulle van die Romeinse oorheersing moes bevry, terwyl ander verwag het dat Hy hulle van fisieke probleme moes bevry. Jesus het wel mense van siektes genees en van sonde bevry, en sodoende iets van die koninkryk van God sigbaar gemaak. Hy het al hulle verwagtings oortref. Mense stel dikwels hulle eie agenda vir Jesus op en verwag dan nie veel meer as dit van Hom nie. Sy werk strek egter veel verder. Hy het immers die prys vir die sonde betaal en vir ons die weg na God geopen. Hy bied meer as oppervlakkige politieke of fisieke veranderings aan ons. Hy bied aan ons nuwe harte en nuwe lewe wat tot in ewigheid sal wees, en wat die vernuwing van alle lewensterreine moontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.