Gedagte vir die dag: Aanbidding wat iets kos

 Luk 7:37: “’n Sekere vrou in die dorp, wat ’n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie” .

Dalk was dit tydens Jesus se vorige besoek aan hierdie dorp dat hierdie vrou van haar sondige leefwyse en verlede verlos is. Toe Hy weer daar aankom, het sy net een begeerte gehad – om vir Hom dankie te sê en aan Hom hulde te bring vir die groot werk wat Hy in haar lewe gedoen het. Die beste manier om dít te doen, het sy gedink, was om daardie kosbare albaste fles met die peperduur reukolie wat sy in haar huis gebêre het, op Hom uit te giet. Dit was geen geringe besluit of “goedkoop” offer nie. Die waarde van so ʼn albaste flessie met kosbare nardusolie was gelykstaande aan ʼn arbeider se jaarlikse inkomste. So ʼn flessie kon dien as ʼn belegging, want al was dit so klein, was dit uiters kosbaar. Sy het dit waarskynlik gekoop van haar verdienste in haar sondige verlede. Dalk het sy vroeër van die reukolie gebruik om haar nog aanlokliker vir haar besoekers te maak.

Nou het sy net één gedagte: Dit is die heel beste wat ek het. Hy verdien my beste, want vir dít wat Hy vir my gedoen het, kan ek nooit betaal nie, kan ek nooit genoeg dankie sê nie. Dalk het sy nie heeltemal logies geredeneer nie, maar hoe kon sy Hom ooit vergoed? Ag, as so ʼn liefde en dankbaarheid ons maar kan motiveer wanneer ons Hom aanbid, of wanneer ons wonder watter offer of bydrae ons vir Hom wil gee! Haar soort aanbidding en manier van gee, is dalk wat vir Jesus regtig saak maak.

Gebed: “U Gees dring my om opnuut my motiewe en gesindheid ten opsigte van my aanbidding en gawes te ondersoek, Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.