Gedagte vir die dag: Abraham – vriend van God

Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek,” en hy is ‘n vriend van God genoem. Jakobus 2:21-23

Ons lees drie keer in die Bybel dat Abraham God se vriend was (2 Kronieke 20:7; Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Wat ‘n merkwaardige stelling! En dit is nie hoe Abraham hulle verhouding beoordeel het nie maar God self. In ons teks vandag haal Jakobus aan uit Jesaja 41:8: “Maar jy, my dienaar, Israel, Jakob vir wie Ek uitverkies het, afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet, …” Dink vir ‘n oomblik daaroor na. Stel jou voor, die almagtige, ewige, alwetende God verwys na ‘n onvolmaakte, sterflike mens as sy geliefde vriend.

Hulle verhouding was op respek en gehoorsaamheid gebaseer; Abraham het God vertrou om hom te lei na waar hy ookal moes gaan. Abraham was ‘n gehoorsame man. Wanneer God gepraat het, het Abraham Hom gehoorsaam. Abraham het God onmiddellik gehoorsaam en sy land en sy mense verlaat (Gen 12, Heb 11:8-10). Abraham het sy geloof in God geplaas toe hy Isak moes gaan offer (Gen 22, Heb 11:8-1-). Abraham het nooit probeer om God se bevele te bevraagteken nie. Selfs al was hy gehoorsaam aan God, maak Romeine 4 dit baie duidelik dat hy nie vrygespreek is omdat hy dit deur sy werke verdien het nie, maar omdat hy in God geglo het en omdat hy geglo het dat God sal doen wat Hy beloof het.

Vriendskap met God is is iets om na te streef, iets wat ons almal kan bereik. Abraham was miskien een van die groot manne in die Bybel, maar hy was nie sonder sonde nie. Jesus sê: “Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” (Joh 15:14). Is jy ‘n vriend van God? Anders gestel, gehoorsaam jy Jesus se bevele?

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat dit selfs vir my moontlik is om U vriend te wees. Help my om ‘n gelowige Christen in woord en daad te wees en om U gehoorsaam te wees. Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.