Lees: Genesis 22:1-18
God het vir Abraham gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” (Genesis 22:2)
Hierdie opdrag van God moes ondraaglike spanning by Abraham veroorsaak het. Miskien het hy eers gedink dat hy God verkeerd verstaan het. Hoe kan dit wees dat God van hom verwag om dié seun waarvoor hy so lank moes wag te offer? Maar Abraham praat nie teë nie. Sommer vroeg die volgende môre vertrek hy, twee slawe en Isak na die offerberg.
Die derde dag, toe hulle al die berg in die verte kon sien, gaan Abraham en Isak alleen verder. Op Isak se vraag waar die offerlam dan is, antwoord Abraham dat God self sy eie offerlam sal voorsien.
By die plek wat God vir hom gewys het, bou Abraham ’n offeraltaar en maak sy seun bo-op die hopie hout op die altaar vas. Abraham se hart moes gebreek het, maar hy deins nie terug nie. Eers toe hy die mes neem om Isak dood te maak, keer God hom. “Los jou seun! Nou weet Ek dat jy My dien,” sê Hy. Toe Abraham weer kyk, sien hy ’n ram wat aan sy horings in ’n bos vassit. Hy het die ram geneem en dit in Isak se plek geoffer. God vra die onmoontlike van Abraham, maar hy is gewillig om God enduit te gehoorsaam. Omdat hy daartoe bereid was, hernu God sy verbond met hom.
Hoe gehoorsaam is jy aan God se opdragte? Indien jy soos Abraham reageer, sal God vir jou in elke situasie voorsien.
Here, gee vir my die geloof en gehoorsaamheid van ’n Abraham dat ek ook bereid sal wees om u opdragte na te kom. Amen.