Gedagte vir die dag: Advent-tyd is gee-tyd

Argieffoto bloot ter illustrasie van Kersfees. (Foto: Unsplash)

“As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen” (Titus 3:8c).

Skrifgedeelte
Titus 3:8c

Oordenking
Dit is Advent-tyd. Oor ʼn paar weke vier ons weer die Kripkind – ons Verlosser – se koms na die wêreld. Vir elkeen van ons beteken Kersfees iets anders. Vir baie van ons is dit die saamwees met familie of dalk ʼn rustige tydjie by die see. Vir kinders is dit natuurlik, naas hul verjaarsdae, die opwindendste tyd van die jaar. En dan is dit vir sommige mense ongelukkig seer-verlang-tyd en eensaamweesdae.

Vir ons wat so gelukkig is om in vrede en liefde ons tyd saam met geliefdes deur te bring, is dit genade-tyd, deel-tyd, sommer net weer ménsword-tyd. Maar dit is vir ons wat so begenadig is ook verskilmaak-tyd: ʼn tyd waarin ons iets van onsself aan hulle wat min het, kan géé.

Vir wie dink jy kan jy in hierdie tyd iets van jouself gee? In wie se lewe kan jy dalk net een liggie aansteek, net een drukkie-van-liefde gee, net een dag brood gee, net een dag liefde bring? Vra die Gees om jou in dié tyd sensitief te maak vir sy roepstem. Bid dat jy gehoorsaam sal wees en dan iets van die groot vreugde van Kerstyd aan iemand anders sal uitdeel.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.