Gedagte vir die dag: Afhanklikheid: Hy sal alles vir jou voleindig

88_praisethelord-2Psalm 57:2,3:”Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het. Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig.”

In hierdie Psalm beskryf Dawid die benoudheid waarin hy verkeer toe hy in ‘n spelonk moes skuil omdat Saul sy lewe soek. Hy beskryf sy agtervolgers as “leeus, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.”(v5). En by dit alles het hulle vir hom ” ‘n net gespan vir sy voetstappe, ‘n kuil vir hom gegrawe en sy siel neergebuig” of soos die 1983 vertaling dit uitdruk – “hulle wou hom breek” (v7).

Hierdie omstandighede laat hom egter nie fokus verloor nie. Hy roep na God wat hom lewe gee en hom in die lewe sal hou sodat “Hy alles in sy lewe voleindig” (v3).
Hy verklaar sy afhanklikheid en vertroue in God: “Hy sal uit die hemel stuur en my verlos… God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur.”(v4) en herhaal dit in Psalm 138:7,8: “As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my. Die Here sal dit vir my voleindig.”

Dalk beleef jy vandag soortgelyke omstandighede waar jy geen uitkoms uit jou situasie sien nie. Of dalk voel jy dat mense besig is om jou te breek en dat jy niks daaraan kan doen nie. Geen woorde en geen advies maak jou hart gerus nie. Jy wil wegvlug, maar waarheen? Vlug na God toe, en wéét soos Dawid: “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.”(Ps 139:5)

Twyfel jy aan Sy vermoë? Hoor en luister dan hierna:
“By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik” (Matt19:26).
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor nie te doof om te hoor nie,” (Jes 59:1)
God kan nie lieg nie – Hy is Waarheid en Hy sal sy beloftes aan jou nakom. Hy beloof: “Die goeie werk wat God in jou begin het, sal Hy end-uit voer en dit voleindig op die dag wanneer Jesus Christus kom.” (Fil 1:6 NAV)

En as daar sonde of onreg in jou lewe is wat in die pad staan dat jy Hom onverwoorwaardelik vertrou, bely dit. Maar wat Hom betref, Sy liefde vir jou ken geen einde nie.

Gebed: My Vader, ek het aan die einde van my eie krag, vermoëns en planne-maak gekom. Ek wil in U teenwoordigheid kom wegkruip, want net by U is ek veilig. Net U kan in my omstandighede ingryp en net U kan my weer laat leef. Ek wil in oorwinning kan uitroep: Ek Leef weer! Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.