Gedagte vir die dag: “Alledaagse wonderwerke”

Teks:Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee” (Matt 14:19).

Hier het beslis ʼn groot wonder plaasgevind toe Jesus natuurlike prosesse (saai, groei, oes en maal van die koring) wat maande sou duur, in ʼn paar oomblikke saamgepers het. ʼn Wonderwerk kan onder meer gedefinieer word as iets wat gebeur wanneer God die natuurwette ophef. Selfs al het vele van ons al sulke wonders gesien en beleef, moet ons ons oë nie sluit vir die wonders wat elke dag deel van die natuur is nie. Op ʼn minder opmerklike manier verrig die Here hierdie wonderwerk van die vermeerdering van die brood nog elke dag voor ons oë.

Dink daaraan: ʼn Enkele koringkorrel wat geplant word, begin groei, en sonder dat die mens enigsins iets daartoe bydra, vermeerder dit veelvoudig. Ons kan nie met iets wat ons doen, die koringkorrel laat vermeerder nie. As ons méér van iets wil hê, moet ons immers nog daarvan máák. Die spontane en natuurlike vermeerdering van ʼn eenvoudige koringkorreltjie is dus opsigself ʼn wonderwerk – en ʼn bewys dat God werklik bestaan.

In elke mens wat Hy geskep het, trouens, in elke lewende sel, het God die vermoë geplaas om te vermeerder. Dit vind dalk nie, soos die wonder van die brood en vis wat vermeerder is, binne minute plaas nie, maar dat dit wél plaasvind, al neem dit maande, is steeds ʼn wonder.

Soms is ons oë en verstand blind vir hierdie wonders van God se skepping wat elke dag om ons plaasvind. Onthou egter dat die God wat hierdie “klein” en “alledaagse” wonders doen, dieselfde God is wat die “groot” wonders doen, al is eersgenoemde meer algemeen en minder opspraakwekkend.

Gebed:Maak my oë oop om u wonderwerke in die natuur om my en elke dag in my lewe raak te sien, Almagtige God. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.