Gedagte vir die dag: Alleen-tyd

142730047Hand 20:13 – Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan.

“Elke mens het ‘n tyd van alleen-wees met God nodig.” Ons lees dat Jesus, Paulus en baie van die profete ‘n tyd lank in die woestyn moes deurbring as voorbereiding vir hulle lewenstaak. In hierdie hoofstuk lees ons van die laaste keer toe Paulus sy geliefde gemeentes besoek het. Hy het geweet dat daar iets slegs vir hom in Jerusalem wag, want in elke dorp het hy ʼn profetiese boodskap daaroor gekry. Miskien is dit een van die redes waarom hy besluit het om die 30km na Assus alleen en te voet aan te pak, eerder as om twee maal so ver met die skip te seil om daar te kom. Hy wou tyd hê om te dink en om met God alleen te wees. Lukas en die ander is aangesê om die skip te gebruik. Ons almal se programme is so vol dat ons moeilik ‘n uur op ‘n dag “aan die Here kan afstaan. Daar is ‘n gedurige gejaag van die een ding na die ander. Ek het self ervaar dat ek eenvoudig ʼn uur vroeër moet opstaan – en ‘n uur vroeër moet gaan slaap – anders is daar net nie tyd vir stilte saam met God nie. Ons moet ons prioriteite regkry! Maar somtyds is dit ook nodig om ‘n spesiale tydjie af te sonder om die Here te gaan ontmoet. Een kollega het ‘n tyd lank in ‘n tentjie in Bainskloof gaan bly om vir ‘n belangrike inter-godsdienstige debat voor te berei. En die Here het hom daarna wonderlik gebruik. Wat van jou? Is dit nie dalk tyd om ‘n dag lank saam met die Here en sy Woord stil te word nie?

Gebed: “Here, ek wil niks misloop van al die seëninge wat U vir my bedoel het nie. Help my om tyd met U deur te bring.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.