Gedagte vir die dag: Alleentye

Teks: “Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie” (Mark. 7:24).

Tirus is noord van Galilea langs die Middellandse See, wat in die hedendaagse Libanon geleë is. Dit was een van die min geleenthede dat Jesus tydens sy aardse bediening buite die grense van sy land, Israel, gegaan het. As ʼn baba het Hy saam met sy ouers in Egipte gewoon nadat hulle vir Herodes moes vlug. Hy was een of twee kere vinnig in Dekapolis – die huidige Sirië. Hierdie keer weer, was Hy in Libanon.

Die rede vir sy besoek is duidelik: Hy wou ʼn rukkie alleen wees; Hy wou rus. In sy land het Hy in ʼn kort tydjie reeds so bekend geword danksy die wonderwerke wat Hy gedoen het dat die mense Hom van heinde en ver gevolg het in die hoop dat Hy ook in hul nood en smart sou voorsien.

Ons lees telkens in die Evangelies hoe Jesus tevergeefs probeer het om net ʼn rukkie alleen te wees. Dit was Hom selde gegun. Dit is waarom Hy dikwels in die nag alleen gaan bid het. In die dag was daar vir Hom weinig geleenthede om alleentyd met sy Vader deur te bring.

In sy menslikheid moes Jesus inderdaad by tye baie moeg geword het, nie net fisiek nie, maar ook emosioneel en geestelik. ’n Mens sien dit raak in die feit dat Hy tydens ʼn hewige storm vas slaap – terwyl golwe die skuit vul en dit byna laat sink (Mark. 4:37-38). As Hy sulke alleentye nodig gehad het, dink net hoe nodig het ons dit! Ons almal het inderdaad tye nodig om te rus, om alleen te wees. Soos iemand gesê het: “business” is een van die grootste vyande van die moderne mens. Volg daarom Jesus se voorbeeld – en skep vir jou alleentye met God.

Gebed: Ek weet dat U met my praat oor my behoefte om stil te word. Help my om gereeld alleen by U stil te word, Here. Amen.

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.