Gedagte vir die dag: Alles deel van die reis

Argieffoto (Foto: Aaron Burden/Unspalsh)

“Soos ʼn fontein met vars, helder water ʼn dors mens laat jubel van vreugde, so sal julle jubel oor die verlossing wat kom” (Jesaja 12:3-4).

Skrifgedeelte
Jesaja 12:3-4

Oordenking
Seer- en swaarkry is nie nét ʼn kruis nie. Dit is deel van ons mensweesreis. Net soos vreugde, gesondheid en sukses, is hartseer, siekte en mislukking deel van ons aardse bestaan. Henri Nouwen sê dat wanneer ons onder die “kruis-van-swaarkry” uitbeweeg en toelaat dat God dit ook seën, dan verander alles. Dan sien ons nie die swaarkry van hierdie wêreld as iets waarvan ons moet weghardloop nie, maar eerder as iets wat ons kan suiwer, waardeur ons kan groei, wat ons nader aan God kan bring en ons meer begrip vir ander kan gee.

Kyk vandag anders na jou hart se seer: plaas dit onder die bestuur van die Gees en vra Hom om ook daardie aspekte van jou lewe te seën. Wanneer jy die negatiewe en slegte in jou lewe vir God gee, sien jy dinge anders. Dan word verwerping ʼn manier om nader aan Hom te kom; kan depressie ʼn fase wees waarin jy gesuiwer word; en kan oënskynlike straf ʼn manier wees waarop jy toelaat dat Hy jou snoei. Wanneer ons ons pyn onder God se seën plaas, ervaar ons ʼn stuk hemelse vrede in die wete dat Hy alles kan gebruik om ons nader aan Hom te bring.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.