Gedagte vir die dag: Alles op die bestemde tyd

TydRomeine 5:6 – Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.

Van die oomblik dat die wekker in die oggend lui om ons wakker te maak, word ons daaglikse roetine deur tyd gereguleer. Ons is afhanklik van horlosies, dagboeke, rekenaars, selfone, noem maar op, alles om ons te help om ons tyd te kan benut.

Die mens het baie ontwikkel sedert die tyd toe stokkies, gedenknaalde en sonwysers gebruik is om die ure aan te wys deur die skaduwee wat die son gooi.

Hoe besiger ons raak, hoe belangriker is dit dat ons by ons tydskedule hou. Tyd is kosbaar, tyd gaan verby en ons moet ons tyd effektief aanwend. Daarom het die mens apparate ontwikkel wat hom in staat stel om tyd in kleiner en meer presiese eenhede te meet.

Instede van om so vas te val in ons tydskedules moet ons eerder op die Here se tyd en plan vir ons lewens fokus. Dit is wat Jesus gedoen het. Regdeur sy lewe hier op aarde het Hy gehoorsaam gehou by die plan en tyd wat sy Vader bepaal het.

In die Bybel is daar verskeie verwysings waar Hy dit baie duidelik stel:

Vir sy broers het Hy gesê: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg.” Johannes 7:6

Aan Filippus en Andreas het Hy gesê: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Johannes 12:23

In die tuin van Getsemane het Hy gebid: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Markus 14:36

Dit moet ons vertrekpunt wees, nie wat ons wil hê nie, maar wat Hy wil.

Onthou ons is die goddeloses vir wie Christus gesterf het. Laat ons ons tyd hier op aarde gebruik om Hom te verheerlik.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die geskenk van die ewige lewe. Skenk aan ons die wysheid om ons tyd hier op aarde tot U verheerliking te gebruik. Ons bid dit in die Naam van Jesus, ons Verlosser. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.