Gedagte vir die dag: Almal beleef mislukkings

windpomp_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy te vrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. (Ps 37:23-24)

“Ek het misluk”, “Niks werk vir my uit nie”, “Ek sal ook nooit iets bereik nie”, “Alles loop net altyd skeef”, “Watter gemors!” Ja, dit klink voorwaar erg pessimisties. Mense wat so praat, het seker iewers kop eerste teen ’n muur vasgeloop. Maar as jy mooi daaroor nadink, het dit al met die meeste van ons gebeur dat daar iets skeef geloop het, iets waarvan ons soveel hoë verwagtinge gekoester het. Die teleurstelling is so groot. En dan die aaklige selferkenning: ek het misluk!

Om te misluk is so normaal soos asemhaal. ’n Mens wat nooit misluk in die een of ander opsig nie, het nooit werklik iets nuuts probeer nie. Mislukking is deel van ’n groeiproses. Ja, daar is sekere mislukkings wat ’n mens heelwat harder slaan as ander. Maar dis juis dan wanneer jy jou staal wys. Jy staan op en probeer weer.

Daar is nouliks ’n Bybelfiguur wat nie sy kop in skaamte moet laat sak oor die een of ander mislukking nie. Maar hulle het kop opgetel en weer probeer. Die teksvers uit Psalm 37 is vir my een van die bemoedigendste verse. Die geheim van ’n gelukkige, suksesvolle lewe is om jou lewe aan die Here oor te laat. Laat Hy vir jou die koers aandui. Dit beteken dat jy oor jou besluite en ondernemings sal bid. Sorg dat die Bybel jou kompas bly. En dan, as jy in die een of ander opsig misluk, weet jy dat die Here jou sal ophelp. Die seerkry in die valproses is maar net ’n herinnering aan jou menslike feilbaarheid. En dit laat jou net weer met nuwe toewyding jou vertroue in die Here stel.

Staan op! Hou moed! Die Here ondersteun jou.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.