Gedagte vir die dag: As dinge verkeerd loop

hartPs 44:15 – U maak ons tot ‘n bespotting onder die nasies, ‘n minagting onder die mense.

“Hoekom gebeur dit met ons?” wonder jy dalk as die een of ander ramp jou tref. Het jy dalk iets verkeerd gedoen? Word jy gestraf? Die psalmis kan nie dink aan iets wat hy verkeerd gedoen het nie, en tog loop dinge verkeerd. Dit is asof die Here hulle verlaat het. Hoekom laat Hy sulke dinge toe? Paulus haal uit hierdie psalm aan as hy in Rom 8:36 praat oor die vervolging van Christene. Om Christen te wees, waarborg nie voorspoed, veiligheid en gesondheid nie. Eerder die teenoorgestelde. Elkeen wat voluit vir die Here wil lewe, sal vervolg word (2 Tim 3:12). Maar die slegte omstandighede kry nie die gelowige onder nie. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37), aangesien niks ons van die liefde van Christus kan skei nie (Rom 8:38 – 39). As ons vandag saam met baie ander gelowiges in die kerk gaan sit, moet ons onthou dat nie een van ons volmaak is nie. Daar sit ‘n klomp seer en swaarkry in die banke. Sommige is op die punt om op te gee, en het dringend ondersteuning en bemoediging nodig. Ander soek iemand wat vir hulle en saam met hulle kan bid, sodat hulle geloof nie ophou nie. Sommige worstel met swak gesondheid, ander met ongelukkige huwelike, nog ander is bekommerd oor hulle kinders wat afgedwaal het. Party sit sonder werk, of hulle maatskappy is besig om onder te gaan. Maar ons kan van Jesus se liefde verseker wees. Deur dit alles wil Hy ons seën.

Gebed: “Here, daar is baie wat ek nie verstaan nie, maar ek vertrou U, omdat U my eerste liefgehad het.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.