Gedagte vir die dag: As Kersfees verby is

Foto ter illustrasie. (Foto: Max Beck/Unsplash)

“Ek sal joune wees vir altyd” (Hosea 2:18a).

Skrifgedeelte
Hosea 2:18a

Oordenking
ʼn Mens sien so uit na Kersfees. Selfs ons as grootmense het iewers in ons nog daardie stukkie kinderlike opgewondenheid oor die dag, al is daar nie meer ʼn Kersvader en ʼn verrassing in ons Kerskous nie.

En dan, sommer net so, is dit 26 Desember, is die opgewondenheid weg en lê die werklikheid weer klokhelder voor ons: ons het gister te veel geëet, ons stoei maar steeds met sommige verhoudings, ons moet binnekort weer die nuwe jaar aanpak. Kortom: Die “fees” in feestyd het verdwyn. Of het dit juis nie?

Dalk hang dit daarvan af hoe ons daarna kyk. Sien ons vandag maar net as nog ʼn voortsetting van ons lewens en al die uitdagings wat ons maar “weer” moet hanteer, of kyk ons na vandag as die eerste dag van die res van ons lewe? ʼn Nuwe dag waarin ons Vader weer splinternuwe genade aan ons gee? Waarin Hy vir ons wil sê dat ons – ongeag ons gisters – die geleentheid het om die liefde van die Kripkind saam met ons te neem, te geniet en dit uit te deel?

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.