Gedagte vir die dag: Barnabas en Paulus – kom ons besluit om te verskil

‘n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.”  Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met ‘n skip na Siprus toe vertrek.  Handelinge 15:36-39

Dit is wat baie mense van Paulus en Barnabas onthou – die argument wat die einde van ‘n vriendskap tussen hierdie twee groot manne van God tot gevolg gehad het.  Hoe kon dit gebeur?!

Daar is ‘n onuitgesproke en skadelike verwagting dat Christene nooit kwaad word en baklei nie. Paulus en Barnabas herinner ons daaraan dat konflik onvermydelik is, selfs tussen die bestes van ons. Dit word net lelik as mense dit swak hanteer.  Vergeet ons soms wanneer ons kwaad word vom die Here se hulp te vra?

‘n Entjie verder in die teks lees ons dat hulle weë geskei het en elkeen sy eie pad gegaan het, maar baie belangrik nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is”. (v. 40)

Dit blyk duidelik dat die gelowiges die saak bespreek het en daaroor gebid het.  Dit is hoe verskille hanteer moet word – in liefde en gebed en met die ondersteuning en gebede van die gemeenskap van gelowiges, en nie in die geheim of deur net die probleem te ignoreer nie.  Die belangrikste is om te fokus op dit wat die wil van die Here is.  Dit is wat Paulus en Barnabas beide gedoen het. Die manier waarop hulle verskil gehanteer is, het positief tot die werk van die Here bygedra.  In enige vriendskap sal daar verskille wees, dit is onvermydelik, en Christene word nie hiervan uitgesluit nie.  Wat wel saak maak, is hoe ons dit hanteer.

Gebed: Selfs wanneer ek nie met my vriende saamstem nie, help my om hulle en hulle besluite te respekteer.  Here, help my om U die middelpunt ook van my vriendskappe te maak.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.