Gedagte vir die dag: Bekommernis demp jou lewensvreugde

Filippense 4: 6 – “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Wat is bekommernis? Dit is om toe te laat dat ʼn situasie of gebeurtenis jou so ontstel, dat jy daaroor stres of vrees. Jy laat toe dat negatiewe emosies jou lewe en denke beheer.

Wat doen bekommernis aan ʼn mens ? Dit kan maagseer, hoofpyn, slaaplose nagte, rugpyn en verskillende siektes veroorsaak. Die skrywer van die boek: “Nervous stomach troubles “ (Dr. Montague) sê: “Jy kry nie maagsere van wat jy eet nie, maar jy kry maagsere van wat dit wat aan jou eet”. Bekommernis vernietig ’n mens se gees en liggaam. Dit kan jou geestelik aftakel dat jy sukkel om te bid. Bekommernis is ʼn simptoom dat jou eie emosionele denke nie gesond bestuur word nie en jy kan niemand anders daarvoor verantwoordelik kan hou nie. U sien bekommernis en vrees is bure. Jy word eers bekommerd oor ʼn ding, dan begin jy die ergste vrees en dan verloor jy beheer! As vrees jou oorgeneem het, het jy beheer verloor.

Wat doen bekommernis nie? Bekommernis betaal nie die uitstaande rekeninge nie, dit droog nie trane af nie, dit help nie om jou werk te behou nie, dit hou nooit ʼn gesin bymekaar nie, dit sit nie kos op jou tafel nie. Bekommernis doen net mooi niks anders as om jou lewe te vernietig nie. Dit is soos wiegstoel ry. Jy is heeltyd besig om te wieg, maar jy kom nêrens. Bekommernis het dus geen voordeel nie – dit is duidelik nadelig vir jou en vergiftig jou gees en liggaam

Hoe hanteer jy bekommernis? Jy sal ʼn definitiewe besluit moet neem dat jy nie gaan toelaat dat iets jou so ontstel dat dit die beheer van jou lewe oorneem nie. Verder stel Paulus voor dat jy dit waaroor jy bekommerd is met gebed, smeking en dankbaarheid in die hande van die Here oor te gee. Ons moet dus die bestuur van ons lewe doelbewus in die hande van die Here te gee. Gee al die onhanteerbare dinge en emosies in die hand van die Here en vertrou Hom daarmee. As jy jou bekommernis in die hande van die Here gegee het, sal jou ontsteltenis verdwyn en jy weer innerlike vreugde ondervind, al het jou situasie nie verander nie.” Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg “ (Psalm 37:5)

Gebed: Here help my om my bekommernisse in u hande oor te gee en sit dankbaarheid en blydskap terug in my lewe. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.