Gedagte vir die dag: Besig-wees

Skrifgedeelte: “Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie.” (Mark 7:24).

Al was Jesus die Seun van God, het Hy dikwels die behoefte gehad om te rus, stil te wees en alleen te wees. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek: Hoe groter verantwoordelikheid jy dra en hoe meer ander na jou opkyk vir leiding, hoe belangriker is dit om tye te hê wanneer jy kan stil word, wanneer jy kan wegkom uit die gejaag en kan wegkom van “besig-wees”.

Ons almal – ook jy – het tye nodig waarin ons ongestoord kan dink, peins, beplan en mediteer. En veral tye om te bid, om na die Here te luister, om die influistering van die Gees te hoor. Gebed is nie maar net om met God te praat of ʼn gebeds- of versoeklys voor Hom neer te lê nie. ʼn Belangrike komponent van gebed is om stil te wees, om te wag op die Here, om na sý inspraak in jou lewe te luister.

Dit is waarom Jesus na ʼn buurland gegaan het, weg uit sy eie land waar Hy nie anoniem kon bly nie en kwalik alleen kon wees. Hy het geweet die Jode sou Hom nie sommer Libanon toe volg nie, want dit was ʼn heidenland met wie Israel meestal nie vriendelike betrekkinge gehad het nie. Hy het gereken dat Hy in daardie vreemde land rustyd, alleentyd, sou kon ervaar.

Dit is Hom egter nie gegun nie. Die Skrif sê in Markus 7:24: “Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie.” Die 1953-vertaling sê: “Hy kon nie verborge bly nie.” Ook in hierdie vreemde land, en ten spyte van die afwesigheid van moderne kommunikasie, was daar reeds mense wat van Jesus geweet en van sy wonders gehoor het.

Gebed: Dankie dat die goeie nuus oor U ook mý land en mý lewe bereik het, Here Jesus. Amen. 

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.