Gedagte vir die dag: Betyds

Teks: Luk. 7: 11+12: “Kort daarna het Jesus na ’n dorp met die naam Nain gegaan, en sy dissipels en ’n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis ’n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was ’n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar.”

Vroeër daardie dag het ʼn groot tragedie homself in die stadjie Nain afgespeel. ʼn Jongman, sy ma se enigste seun is die oggend oorlede. Nain se mure en poort kon die dood nie keer nie.

By die poort van die stad kom Jesus ʼn begrafnisstoet teë oppad na die begraafplaas. Volgens Joodse gebruik is dooies altyd buite die dorp of stad begrawe omdat grafte seremonieël onrein is.

Sien net ʼn oomblik hierdie toneel voor jou oë. Sien die ooreenkomste en die verskille. Twee eniggebore seuns, die een op ʼn draagbaar – ʼn lyk; die ander Een word genoem die Lewe. Hy sou ook later  sterf – ʼn wrede dood. Altwee sou uit die dood opgewek word. Die een sou later weer sterf; die ander Een sou nooit weer sterf nie! Elkeen word deur ʼn menigte gevolg – hierdie wonderwerk sou nie aan iemand se verbeelding toegeskryf kan word nie.

Dit was geen toeval dat Jesus dieselfde tyd by die poort van die stad aankom as wat die begrafnisstoet van binne na buite beweeg het nie. Dit was Goddelike tydsbeplanning. As Jesus tien minute vroeër gekom het, sou die stoet nog nie by die poort gewees het nie. As Hy tien minute later was, sou die stoet reeds uit die stad gewees het.

In ons eie lewens is daar ook sulke “poortafsprake”, desperate oomblikke, krisisoomblikke waar ons die Here só nodig het. Ons bid en pleit, maar die antwoord bly weg. Partykeer voel dit of die Here te laat is.

Alle tye is egter nie dieselfde nie. Daar is “regte” oomblikke, “poort”-oomblikke. As die Here ʼn afspraak met ons het, is Hy nooit laat nie, maar ook nooit vroeg nie. God ontmoet jou by jou “poort”, op die regte tyd.

Gebed: Dankie dat ek mag glo dat U ook na my “Nain” oppad is dat ek kan wéét U sal betyds wees! Amen.

Outeur: Dr Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.