Gedagte vir die dag: Boodskappe wat moed gee

seënHand 15:31 – Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap.

“ ʼn Mens vang baie meer vlieë met een druppel heuning as met ʼn emmer vol gal,” is ʼn ou gesegde wat vir ons iets wil leer oor wat ons moet sê, en hoe om dit te sê. Dit is baie makliker om mense af te kraak en moedeloos te maak as om hulle te motiveer en moed in te praat. Die afvaardiging na die sinode in Jerusalem het saam by Antiogië opgedaag en die boodskap van sinode kom aflewer. Dit was ʼn groot bemoediging vir die gemeente om te hoor dat hulle die Here reg gehoor het, en dat hulle die regte boodskap aan die nie-Jode oorgedra het. Nou kon hulle met ywer voortgaan met hulle sendingaksie, sonder die kritiek van die mense wat hulle wou dwing om die Joodse godsdiens en kultuur uit te dra. Dit is interessant om in vandag se Skriflesing op te let hoeveel daar van bemoediging gemaak word. Judas en Silas het die gelowiges bemoedig en geestelik versterk. Hulle het die geestelike toerusting gehad om dit te kon doen. Paulus en Barnabas het ook ʼn lang ruk in hulle tuisgemeente gewerk, en is opgebou vir die uitdagings van die volgende uitreik. En ons lees dat “baie ander” ook in daardie gemeente gewerk het. Dit was beslis nie ʼn eenmanvertoning nie. Ons het almal bemoediging nodig. Kom ons maak vandag – en elke dag – ʼn punt daarvan om mense te bemoedig. “Probeer om jou werknemer te vang waar hy iets reg doen, en sê dit vir hom,” is ʼn beginsel wat in die sakewêreld goeie resultate oplewer.

Gebed: Here, help ons om mekaar in die geloof te bemoedig.

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.