Gedagte vir die dag: Bring dit vir Hom

Teksvers: “Hulle sê toe vir Hom: ‘Ons het hier net vyf brode en twee visse.’ ‘Bring dit vir My hier,’ sê Hy.” (Matt. 14:17-18)

Hoe verskriklik min en ontoereikend moes die karige voorraad nie in Jesus se hande gelyk het teenoor die reuse skare honger mense voor Hom nie!

Maar dan … Hoe onvolkome en ontoereikend het die jong seun, Dawid, nie gelyk toe hy met sy slingervel voor die reus, Goliat, stelling ingeneem het nie! En hoe lagwekkend het Simson nie gelyk toe hy die leër van die Filistyne aangedurf het met net ʼn donkie se kakebeen in sy hand nie! Of Moses toe hy en die Israeliete tussen die Rooisee en die Egiptenaars vasgekeer was, en al wat hy in sy hand gehad het, was ʼn staf! En dink aan Gideon. Hoe ongelyk was die stryd tussen sy 300 manne en die Midianiete wat in hulle menigte soos sprinkane in die laagte gelê het!

Die wonder het  egter telkens gebeur wanneer God in die prentjie gekom het – wanneer dít wat hierdie mense gehad het, onder sý beheer, in sý hand beland het. Daar is ʼn ou gospel-liedjie wat lui: “Little is much, when God is in it.” Wanneer ons die oënskynlik geringe wat ons het aan Hom oorgee, kan daar elke keer iets besonders gebeur. Dit is God se ingrype, sy tussentrede, wat die groot verskil maak.

Wat het jy in jou hand? Jy sê dalk: “Here, wat het ek om U te gee? Wat kan ek doen? Ek het nie veel talente nie; ek het nie baie geld nie.” As jy baie gehad het, as jy toereikend was, was ʼn wonderwerk dalk nie nodig nie. Die seën van die Here kan jou met ʼn klein bietjie baie ver laat kom. Maak net seker dat jy dit aan Hóm wy, dat dit in sý hand is. Dan kan Hy al die eer kry.

 

Gebed: Wys vir my wat ek aan U kan en moet oorgee, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.