Gedagte vir die dag: By Hom is daar genade

Skrif: “’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie” (Matt 12:20).

Hoe broos is die mens tog! Wanneer ons sterk en gesond en in beheer is, het hierdie vers dalk nie vir ons soveel betekenis nie. Maar onthou, die sterkste en selfversekerdste onder ons kan oornag ʼn geknakte riet en ʼn rokende lamppit word. Hoe maklik word selfs dié wat die sterkste is en die meeste selfvertroue het, nie gekwes nie. Een groot trauma, of ʼn reeks terugslae, en jy voel hoe weerloos en alleen jy is, soos ʼn riet in die wind, bewend en broos. So maklik word dit geknak, en dan is dit onherstelbaar.

ʼn Geknakte riet kan ʼn simbool wees van iemand wat in sonde vasgevang is. Die Satan is die groot breker, en sonde knak jou, laat jou lamppit rook. Daar is ʼn rede waarom die Bybel ons teen verskillende sondes waarsku: Enige sonde laat ons vroeër of later ʼn prys betaal; dit eis altyd sy tol. Die Satan is ʼn ongenaakbare baas om voor te werk. En so dikwels kry ons mense wat oortuig is van hulle sonde, wat moeg is vir ʼn lewe vol sonde, maar wat nie weet hóé om uit die maalkolk daarvan los te breek nie. Hulle is gekwes, geknak. Hul gesondheid is soms geknou; hul huwelik of hul beroep het in die slag gebly. Hulle is geknakte riete, rokende lamppitte.

Wat ’n groot troos dat hierdie mense kan weet: God kyk met ander oë na my. By Hom is daar genade, vergifnis en herstel – selfs al het mense my afgeskryf. Die wonder is dat God jou nie verder sal vernietig nie. Die geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en die rokende lamppit sal Hy nie blus nie.

Gebed: Dankie dat daar by U genade is, Here, ook vir my. Amen.

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.