Gedagte vir die dag: Bybelse diensbaarheid

As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. Johannes 12:26

“Servant leadership” is a gonswoord wat reeds vir dekades bekend is. Dit is ‘n leierskapfilosofie en ‘n stel gebruike wat die behoeftes van ander eerste stel en mense help om te ontwikkel en hulle take na die beste van hulle vermoë te verrig.  Maar lank voor organisasies en sielkundiges met die konsep van diensbare leierskap vorendag gekom het, het die Bybel reeds baie te sê gehad oor diensbaarheid.

Onselfsugtige diensbaarheid is ‘n kwaliteit wat die karakter en lewe van Jesus Christus, die grootste dienskneg van almal, beskryf. Jesus het gesê: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Markus 10:45) Die apostel Paulus het verder hierop gefokus toe hy geskryf het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Filippense 2:4). Wanneer ons aan Jesus sy regmatige plek as Here van ons lewens gee, kry sy heerskappy gestalte op die manier wat ons ander dien. Ons bewys ons liefde vir die Here op die manier wat ons liefde aan ander betoon. As gelowiges is ons almal geroep tot ‘n bediening. Dit beteken nie noodwendig dat ons almal geroep is om predikante, pastore of geestelike werkers te word nie, maar dit beteken wel dat ons almal geroep is om te dien en daardeur God te verheerlik.

‘n Afgetrede generaal het op ‘n keer gesê: ” ‘n Rang word aan jou gegee om jou in staat te stel om diegene bo jou en onder jou beter te kan dien. Dit word nie aan jou gegee om al jou eie eienaardighede op ander af te dwing nie.” God het ons gedien deur Christus aan die kruis vir ons sondes te offer, en ons behoort ander te dien deur die evangelie aan hulle te bring en ons lewens aan ander toe te wy. Gedurende die volgende aantal dae gaan ons sekere aspekte van diensbaarheid in die Bybel bespreek, en ook hoe ons ‘n diensbare hart kan ontwikkel. 

Gebed: Here, leer my hoe om die eie ek af te lê en U waarlik onselfsugtig te dien. Laat my liefde vir U duidelik gestalte kry in die manier wat ek aan diegene om my liefde bewys. Amen

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.