Gedagte vir die dag: Christelike vriendskap

Hebreërs 10:23-25: Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Ek het vriende nodig in my lewe.  En ek bedoel nie net vriende saam met wie ek rugby kan kyk of skoene kan gaan koop nie. Ek bedoel vriende wat my so liefhet dat hulle met my kan deel wat God in hulle lewens doen. Ek het vriende nodig om my te bemoedig, maar wat my ook sal teregwys.

Ek dink dit is waarna die skrywer van Hebreërs in hierdie teks verwys. As deel van die liggaam van Christus, is ons geroep om deur die Gees meer en meer soos Hy te word en om mekaar aan te spoor en te ondersteun. In Efesiërs 4:16 sê Paulus: “en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. Die Here het ons nie geroep om die wedren alleen te hardloop nie, maar deur sy genade is ons deel van sy Liggaam hier op aarde wat ons soms bemoedig, ondersteun, versorg en ons selfs vermaan wanneer nodig.

In die Bybel is daar baie voorbeelde van Christelike vriendskap, en gedurende hierdie maand gaan ons die lewens van mense soos Naomi en Rut, Dawid en Jonatan, Debora en Jael, ‘n bietjie van nader bekyk en uitvind wat hulle ons van ware vriendskap leer, ook vir vandag waar jy ‘n vriend kan ‘verwyder’ deur op ‘n knoppie te klik.

Gebed: Here, dankie vir my Christenvriende.  Help my om uit u Woord te leer hoe ek my vriende kan motiveer en vir hulle die weg na U kan wys en hoe ek hulle deur die hoop van die evangelie van Christus kan bemoedig.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.