Gedagte vir die dag: Christus is die brood wat lewe gee

Johannes 6:35 – Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

Soos wat God deur die hele Bybel Homself aan die mens bekendmaak deur sy verskillende name, praat Jesus gedurende sy aardse bediening ook met die mense in alledaagse beelde en dinge waarmee hulle bekend is. Hy stel Homself en Wie Hy is aan hulle voor in eenvoudige metafore waarvan hulle die betekenis verstaan.

Hier gebruik Christus die wesenlike behoefte van alle mense nl. honger en dors. Hy vergelyk Homself met brood wat lewe gee en ‘n fontein waaruit water vloei.

Verder in hierdie hoofstuk lees ons: “Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” [Johannes 6:49-51]

Hierdie is ‘n oop en gratis uitnodiging vir mense wat honger en dors is: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” [Johannes 4:13 & 14].

Dit waarborg lewenslange tevredenheid – en onthou lewenslank is in hierdie geval vir ewig!

Later as Jesus die eerste Nagmaal instel, word brood ‘n tasbare teken om aan vas te hou – ‘n herinnering dat ons die lewe het!

Gebed: Here, U is die brood van die lewe – ek hoef nooit elders te gaan soek nie. U is die lewegewende fontein! Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.