Gedagte vir die dag: Christus ons Voorbeeld

Johannes 13:13-15 – Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

Jesus was saam met sy dissipels aan tafel, toe Hy opstaan, sy bokleed uittrek, ‘n handdoek om sy lyf vasmaak, ‘n wasskottel vat en hulle voete was en afdroog. Jesus het natuurlik geweet dat daar min tyd saam met sy dissipels oor was. So min tyd en soveel dinge wat Hy nog vir hulle moet sê. En dan maak Hy gebruik van die beste manier om iets oor te dra: Hy voeg die daad by die woord; Hy stel die voorbeeld; Hy neem die gestalte van ‘n dienskneg aan en was sy vriende se voete. En deur hierdie praktiese daad, leer Christus sy kerk om te dien.

Wat my ook opval aan hierdie situasie waar Jesus en sy dissipels saam is, is dat daar op die oog af geen ware nood of krisissituasie is nie, maar dat Christus binne die normale gang van hul saamwees, ‘n geleentheid skep om te dien. Om tot diens van ander te wees, moet dus nie net in barmhartigheidsituasies aan byvoorbeeld minderbevoorregtes plaasvind nie. Christus se opdrag geld vir alle menseverhoudings waarin ons staan.

Ferdinand Deist skryf in sy bundeltjie “Woorde van Hoop” dat die Christelike selfbeeld geen plek vir hoogmoed het nie: “Die heerlikheid en grootheid van die gelowige mens word daarin bewys dat hy altyd bereid is om te dien, selfs as hy ‘n magposisie beklee. Om elke vorm van diens skyn die glans wat die navolging van Christus daaraan gee.”

As ons as gelowiges aan hierdie opdrag getrou kan bly, as ons elke dag die voorbeeld van diensbaarheid kan uitleef, sal die wêreld ingrypend begin verander. Kom ons begin in ons eie gesin en binne ons eie werkskring.
Gebed: Here, U stel vir my die voorbeeld oor hoe ek moet optree en diensbaar wees en dit lyk op die oog af maklik as ek aan die groepie dissipels daar rondom U dink – soveel jare gelede. Maar help my asseblief vandag, Here, hier binne my werkkring en my huisgesin as spanningssituasie oplaai en gemoedere hoog loop. Help my om dan ook u liefdesgesindheid te openbaar en steeds te dien. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.