Gedagte vir die dag: Dankbaar vir die moeilike mense in jou lewe

kruisDink vir ’n oomblik aan iemand in jou lewe wat die wêreld vir jou moeilik maak. Is dit jou huweliksmaat? ’n Knorrige kollega of bestuurder by die werk? ’n Kritiese skoonma? ’n Boukontrakteur wat nie by sy beloftes gehou het nie? Jou rebelse tiener? Of dalk die stadige of onverantwoordelike motoris wat vanoggend op pad werk toe voor jou ingesny het? Hoe hanteer jy hierdie moeilike mense wat ongemaklike situasies in jou lewe veroorsaak? Verwens jy hulle of dank jy God vir hulle?

Om dankbaar vir bogenoemde groep mense te wees klink amper onmoontlik en ongehoord. Tog, besef jy dat hierdie groep mense ’n belangrike rol in jou lewe speel? Hier is twee moontlike redes hoekom:

Rede 1: Moeilike mense of situasies openbaar wat in jou hart aangaan
In Psalm 139:23-24 bid die Psalmdigter: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; . . . en lei my op die ewige weg!” Hoekom is dit vir hom belangrik dat God aan hom moet uitwys wat in sy hart aangaan? Ons kry ’n antwoord hierop in Psalm 24:3-4: “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is. . .” God is heilig en hoe nader ons aan Hom beweeg, hoe groter word ons behoefte om soos Hy te word. Ongemaklike situasies en moeilike mense help ons om te identifiseer wat ons in ons lewens moet aanpas terwyl die Heilige Gees ons in staat stel om dit te doen.

Rede 2: Moeilike mense of situasies vorm ons karakter
Ons karakter is vir God belangriker as ons gerief. Moeilike tye en mense help ons groei, dit verander ons perspektief op die lewe en die belangrikste, dit hou ons afhanklikheid van God. Dit is dus te verstane dat ons in Romeine 5: 3-5 lees: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie . . .”

Ek vra jou weer, wie maak die lewe vir jou ongemaklik? Onthou, die stadige of onverantwoordelike bestuurder in die verkeer openbaar dalk aan ons ongeduld en onnodige woede in ons harte. Die knorrige kollega of baas in die werkplek help ons om te onthou dat ons moet werk asof ons vir God en nie mense werk nie terselfdertyd ons selfbeheersing terselfdertyd opgeskerp word. En ons rebelse tiener, kritiese skoonma of moeilike huweliksmaat bring ons weer op ons knieë waar ons ons afhanklikheid van God beleef – en ook sy krag wanneer Hy verandering teweegbring.

Kom ons dank God vir moeilike mense en omstandighede. Hy is dalk besig om ons karakter te vorm en te slyp soos diamante sodat ons meer lig na mense om ons kan skyn. Sterkte.

Gebed: Vader God, ek het nooit gedink dat ek dit sal sê nie, maar baie dankie vir die moeilike mense en ongemaklike situasies in my lewe. Help my om nie gefrustreerd te raak nie, maar om eerder te identifiseer wat dit aan my openbaar wat in my hart is waaraan ek kan werk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.