Gedagte vir die dag: Dankbaar vir die stil tye

son“Ek glo in die son al kom dit laat op;
Ek glo in liefde al is dit afwesig;
Ek glo in God al bly Hy stil.”

Vandag nog ervaar ons soms “stil oomblikke” in ons lewens. Ons bid vir rigting en leiding. Stilte. Ons bid vir ’n huweliksmaat. Stilte. Ons bid vir ’n werkpromosie. Stilte. Ons bid vir genesing van ’n siekte. Stilte. Of ons bid vir finansiële herstel – en ervaar stilte. Wat is jou reaksie in hierdie “stiltye”?

Moses het ’n stiltyd in die woestyn beleef waarheen hy gevlug het nadat hy ’n Egiptenaar vermoor het. Ook Josef het ’n stiltyd beleef in die Egiptiese tronk waarin hy gegooi is weens valse aantygings deur Potifar se vrou. En die mensdom het vir 400 jaar van die laaste openbaring van God in die Ou Testament en die koms van Jesus ’n stiltyd beleef.

Is God in stiltye afwesig? Natuurlik nie. As jy ’n stiltyd ervaar is Hy heel moontlik besig om ondergronds te werk. Net soos ’n plant se wortels eers afwaarts moet groei om te verseker dat die plant staande bly as dit in die lug in opskiet, moet God ook seker maak dat ons karakter en geloof sterk genoeg is om dat ons staande sal bly wanneer ons deurbraak kom of ons grondgebied vergroot word.

In Psalm 46:11 lees ons: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” In ’n ander vertaling staan geskryf: “Laat staan en weet dat Ek God is” (1953-hersiening).

Moses het getrou gebly. Vir 40 jaar het hy die woestyn waarheen hy gevlug het soos die palm van sy hand leer ken. Min wetende dat God hom op 80-jarige ouderdom sou roep vir die belangrikste taak van sy lewe: Om die Israeliete na die beloofde land te lei – juis deur dié woestyn. Josef het die karaktertoets in die tronk deurstaan en na 12 jaar het God hom in een dag van ’n gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. Ook die mensdom het 400 jaar nodig gehad om die profesieë van die koms van ’n Verlosser in ons harte te laat insink, sodat ons gereed kon wees vir die klimaks van die skepping, naamlik die koms van Jesus Christus.

Kom ons begin dank God vir die “stiltye” in ons lewens. Hy is heel moontlik besig om ons karakter te vorm, ons geloof te toets en alles agter die skerms gereed te kry vir die deurbraak wat op ons wag. Onthou, Hy maak nooit foute nie en sy tydsberekening is altyd perfek. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U nooit stil is, al voel dit soms vir my so. Help my om sterk te bly in my geloof in hierdie tye en die karaktertoets te slaag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.