Gedagte vir die dag: Dankbaar vir gebed

praying-and-kneeling-manGod is ons Kragbron en wanneer ons bid demonstreer Hy sy krag aan ons. Hoewel ons in Psalm 139:4 lees: “Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees,” lees ons ook in Jakobus 4:2b: “. . . julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Al weet God dus van ons uitdagings in die huwelik, finansiële verknorsing, stryd teen ons gewig of met ’n verslawing of van ons slegte verhouding met familielede, wil Hy graag hê dat ons dit met Hom moet bespreek.

Gebed verander ons perspektief op ’n saak. Nie net help dit ons om nederig en afhanklik van God te bly nie, dit help ons ook om weg te kyk van die uitdaging, die klavier aan te skakel en God te nooi om ons lewens met wêreldklas simfonieë te kom vul waar ons droë, stiltye ervaar.

Hoe weet ons dat gebed werk? In Mattheus 7:7 sê Jesus: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word . . .” In 1 Tessalonisense 5:17 lees ons: “Bid gedurig.” En in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Wanneer laas het jy met God gesels – nie net die vyf minute in die oggend of aand nie, maar regdeur die dag? Maak jy ook tye om te luister as Hy deur sy Heilige Gees met jou terugpraat? En raadpleeg jy Hom voordat jy besluite neem of lig jy Hom bloot daaroor in? Onthou, God sluimer en slaap nooit nie. Hy het wêreldklas simfonieë gereed. Prop in by ons Kragbron en jy mag dalk verstom staan oor wat Hy in jou lewe kan en wil doen. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek met U kan praat. Help my om weg te kyk van my uitdagings en my oë op U te plaas met die wete dat U reeds weet wat ek benodig. Help my asseblief vandag met (noem jou uitdaging) en versterk my geloof in die wete dat U vir my op die regte tyd en manier sal deurkom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.