Gedagte vir die dag: Dankbaar vir vandag

familieHet jy al in die strik getrap om so besig te raak met verganklike dinge in die lewe dat jy nie uitkom by wat eintlik belangrik is nie?

“Pappa, kan ek jou ’n vraag vra?” het die sesjarige seuntjie vir sy pa gevra toe dié weereens een aand laat en geïrriteerd na werk by die huis opdaag. “Ja, wat wil jy weet?” het die pa geantwoord. “Pappa, ek wil weet hoeveel geld jy per uur by die werk kry?” Dit was ’n vreemde vraag. “Vir wat wil jy weet?” het die pa kortaf geantwoord, sy gedagtes steeds by die werk. “Dit is grootmensgoed. Jy hoef dit nie te weet nie. Spog julle by die skool oor wie se pa die meeste geld verdien?”

Die seuntjie het sy kop geskud en gesoebat. “Nee, Pappa, ons doen nie. Asseblief, ek moet weet hoeveel geld jy kry?” Om die gesprek te beëindig het die pa geantwoord: “As jy moet weet, ek verdien omtrent R600 per uur.” Die seuntjie was vir ’n rukkie stil voordat hy vra: “Pappa, kan ek asseblief R300 by jou leen?” Dadelik vies het die pa geantwoord: “As jy wou weet hoeveel geld ek verdien sodat jy weer een of ander simpel speelding kan koop, kan jy sommer kamer toe gaan. Gaan dink sommer na oor hoekom jy net wil hê, hê, hê. Ek werk heeldag hard en het nie tyd vir kinderagtige speletjies nie.” Die seuntjie het dadelik opgestaan, na sy kamer gegaan en die deur agter hom toegemaak terwyl die pa op die rusbank neersak.

Na ’n rukkie se ontspan het die pa begin sleg voel dat hy so kwaai met sy seun was. Dalk het sy seun die R300 vir iets belangrik benodig. Hy is buitendien nie ’n kind wat dikwels geld vra nie. Die pa het dadelik na sy seun se kamer gestap en die deur oopgestoot. “Slaap jy, my seun?” het hy gevra. “Nee, pappa, ek is wakker,” het die seuntjie geantwoord. Die pa het op die bed gaan sit met die woorde: “Pappa het ’n lang dag gehad en was dalk vroeër onnodig kwaai met jou. Hier is die R300 wat jy wou gehad het.” Die seun se gesig het dadelik opgehelder terwyl hy uitroep, “Baie dankie, Pappa!” Hierna het hy van die bed afgespring, ’n laai oopgetrek en ’n paar verfrommelde note uitgehaal wat hy begin tel het.

Die pa wou hom skielik weer vervies toe hy sien dat sy seun wel ’n klomp geld het. Die keer het hy egter op sy tong gebyt totdat sy seun die geld klaar getel het. Toe vra hy: “Nou vir wat het jy vir my geld gevra as jy reeds geld het?” Die seuntjie het reguit in sy pa se oë gekyk met die woorde: “Ek het nog nie genoeg geld gehad nie, Pappa. Maar nou het ek! Hier pappa, hier is R600 bymekaar. Kan ek asseblief ’n uur van jou tyd koop?”

Hoe lyk jou prioriteite in jou lewe? Is jy ook so besig dat jou geliefdes dalk mettertyd gaan begin voel dat hulle van jou tyd wil “koop”? In Psalm 118:24 skryf die Psalmdigter: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Vandag is ’n geskenk. Jy gaan dit nooit weer kry nie. Wat wel gaan gebeur is dat jou kinders grootword en jou huweliksmaat ouer. Leef jy vandag so dat jou kinders as volwassenes ’n behoefte sal hê om weer te kom kuier? Of sal jy en jou huweliksmaat op julle oudag steeds iets hê om oor te gesels? Kom ons word nuut dankbaar vir vandag en ook vir ons geliefdes terwyl ons ons lewens só inrig dat hulle weet dat ons hulle liefhet. Sterkte.

Gebed: Vader God, dankie vir vandag. Help my om my prioriteite te orden dat ek nie later in my lewe spyt is vir geleenthede wat ek gemis het om in my geliefdes se lewens in te bou nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.