Gedagte vir die dag: Dankbaar vir vergifnis

OLYMPUS DIGITAL CAMERARusteloos het die koning deur sy boeke geblaai. Hy kon nie slaap nie en het daarom besluit om vas te stel wie van sy onderdane geld aan hom skuld. Op een spesifieke bladsy het hy gestop terwyl hy die inhoud met ’n frons bestudeer. Geskok met sy bevinding het hy met sonsopkoms een van sy amptenare ontbied.

“Waar is my geld?” het die koning gebulder toe die amptenaar voor hom verskyn. Bleek van skok omdat hy die koning R20 miljoen skuld, het die amptenaar stadig geantwoord: “Ek is jammer koning. Ek het nie die geld nie. Ons is bankrot. Ek sal nie die skuld kan betaal nie.” Dié antwoord het die koning selfs meer woedend gemaak. “Vat hierdie man,” het hy na een van sy onderdane gebulder, “verkoop al sy besittings en vat hom en sy gesin daarna na die markplein waar hulle as slawe verkoop moet word!”

Vreesbevange het die amptenaar op sy knieë voor die koning neergesak voordat hy in trane om genade begin smeek het: “Koning, asseblief. Ek smeek u vir ’n laaste kans. Ek belowe om elke sent aan u terug te betaal. . .” Die koning het die man jammer gekry. Hy kon sien die man het berou en het daarom genade aan hom betoon en sy skuld afgeskryf.

Die amptenaar het die paleis verlig verlaat. Op die markplein het hy ’n man wat R9000 aan hom skuld raakgeloop. Woedend het hy die man aan die keel gegryp en hom beveel om sy skuld te betaal. Die skuldenaar het die keer om genade gepleit: “Asseblief meneer, ek smeek u vir ’n laaste kans. Ek belowe om elke sent aan u terug te betaal. . . ” Die amptenaar wou egter niks daarvan hoor nie en hy het die man in die tronk laat stop.

Nadat die koning van hierdie insident te hore gekom het, het hy die amptenaar dadelik weer na hom ontbied. Dié keer het hy geen genade getoon nie. “Ek skryf vir jou jou R20 miljoen se skuld af,” het die koning, wit van woede, aan die amptenaar gesê, “en jy kan nie eens R9000 se skuld afskryf as jou skuldenaar jou om genade smeek nie?!” Die koning het die man in die tronk laat gooi waar hy gemartel is.

In Mattheus 18:35 sluit Jesus bogenoemde gelykenis af met die woorde: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Dink vir ’n oomblik terug op jou lewe. Waarvan het God jou al alles vergewe en vrygemaak? Dink nou aan almal in jou lewe wat jy nog moet vergewe. Is jy dankbaar vir God se vergifnis deur self ook genade en vergifnis aan Hom te betoon of vergeet is jy soos die amptenaar wat vergeet van die genade wat aan Hom betoon is? Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my vergewe wanneer ek waarlik berou het en dat U nie weer aan my verkeerde dade dink nie. Help my om (as daar iemand is wat jy nog nie vergewe het in jou lewe) te vergewe en totaal vry te spreek. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.