Gedagte vir die dag: Deel van die Rots

Joh 14:1- “Julle moet nie onsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My”.

Jesus se antwoord op ons ontsteltenis is kort, maar nie oppervlakkig of goedkoop nie. Nie soos dié wat ons dikwels kry van mense wanneer ons midde-in groot hartseer of ontsteltenis verkeer nie. Sy antwoord is meer as godsdiens; meer as tegnieke, selfvertroue en ‘n goeie selfbeeld. Hy sê: “Glo in God; glo ook in My” (Joh 14:1). Glo in sy volmaaktheid, sy grootsheid, sy liefde, sy voorsiening, sy sorg.

Die woord geloof kom van die stamwoord wat “vastigheid” of “standvastigheid” beteken. Dit is byvoorbeeld in die antieke tyd gebruik om te dui op ’n ma wat haar kindjie op haar heup vashou. Daardie “deel wees” van sy of haar ma gee aan die kindjie rustigheid, selfs te midde van dreigende gevaar.

  Om geloof in God te hê beteken om deel te hê aan die vastigheid en standvastigheid van God en Christus – die Rots van die eeue. Geloof in God beteken dat ek Hom vertrou wat my dra. En wat ’n behoefte het ons nie in hierdie dae aan sulke standvastigheid nie!

Hierdie “deel wees” van God se sterkte en standvastigheid word so mooi geïllustreer as jy dink aan ’n skulpie of ’n mossel wat daar by die see aan ‘n rots vaskleef. Hoeveel keer het ek nie al gekyk na daardie magtige en reuse branders wat met krag op so ʼn rots afkom en in skuimende geweld daaroor breek nie. En as die water terugtrek, is die rots steeds daar – en die skulpie ook. Die magtigste tsoenami-brander kan kom en gaan, die skulpie aan die rots is steeds veilig en steeds daar. Dis nie omdat daardie skulpie soveel inherente krag het nie, nee, hy het maar net “deel geword” van die vaste, onbeweeglike rots.

O, hoe bly is ek dat ek in Hóm kan glo, kan deel wees van die Rots van die eeue!

Gebed: Soos daardie kindjie op sy of haar ma se heup, wil ek net op U vertrou, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.