Gedagte vir die dag: Deur sý wonde …

 Mark 1:41 – “Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: ‘Ek wil. Word gesond!’”kneel-before-the-cross.

Die melaatse man wat voor Jesus kom neerval het, het sekere kulturele en godsdienstige reëls verbreek. Hy was nie veronderstel om naby ʼn gesonde mens te kom nie. Melaatsheid was immers hoogs aansteeklik. Jesus het Homself egter ook blootgestel en sekere taboe’s verbreek deur die man aan te raak. Volgens die wet het Jesus Homself deur hierdie aanraking seremonieel onrein gemaak.

Dit was egter juis om hierdie rede dat Jesus aarde toe gekom het. Deur hierdie man aan te raak, het Jesus Hom met die melaatse (en met ons elkeen) vereenselwig en sy siekte en onreinheid op Hom geneem. Dit was inderdaad ʼn heenwysing na wat aan die kruis sou gebeur: “Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra … Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes 53:4-5).

Juis omdat Jesus hierdie man se onreinheid, sy siekte, op Hóm geneem het, kon die man reiniging en genesing ontvang en het hy gesond daar weg gestap. In Christus en sy kruis word ons sonde vervang met vergifnis en vryspraak;, ons onreinheid met reinheid;, ons siekte met genesing. In Hóm verruil ons die hel vir die hemel;, verlorenheid vir die ewige lewe.

Ek hoop dat ook jy al Jesus se aanraking ervaar het. Sy werk aan die kruis was een maal, vir almal, vir altyd. Vandag wil ek graag vír jou en sáám met jou bid: …

Gebed: Here, ek bely dat U ook mý sonde en mý siekte aan die kruis gedra het. Ek vereenselwig my met U aan die kruis, en bely dat daar vir mý vergifnis en genesing is. In Jesus se Naam. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.