Gedagte vir die dag: Die aanbidding

Luk 7:37-38 – “Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het”.

Met die flessie reukolie styf teen haar bors vasgedruk, staan hierdie vrou ʼn paar oomblikke stil in die deuropening, sodat haar oë gewoond kan raak aan die skemerte in die vertrek. Ook sodat sy kan vasstel waar Hý is. Sy is kwalik bewus van die talle starende en meestal verontwaardigde oë wat op haar gerig is.

Dan sien sy Hom waar Hy skuins by die lae tafel lê. Huiwerig beweeg sy tussen die ander sprakelose mans deur tot by Hom. Sy wil die duur olie as eerbetoon oor sy kop uitgiet, maar toe sy kom by daardie heilige voete wat vuil en ongewas op die mat lê, oorval haar emosies haar. Voordat sy nog die albaste fles kon oopmaak, gaan haar hart oop en haar warm trane druppel op sy voete neer.

Ek wonder, as ek of jy daar was, wat met ons sou gebeur het. Wat sou ons ervaar het? Indien ons Hom ook as ons Verlosser sou ken, sou ons waarskynlik ook nie verder as daardie voete gekom het nie – daardie voete wat ʼn paar maande later deur Romeinse spykers deurboor sou word. Sy teenwoordigheid sou ons tranekruik waarskynlik ook laat oopgaan het.

Hier is ʼn vrou wat deur dankbaarheid, verwondering en aandoening oorweldig is. Vergete is die kodes en etiket, die reëls en regulasies van sosiale omgang, protokol en kultuur. In die stilte is dit net haar snikke wat opklink. Die ontevrede, ontstemde Fariseërs kyk na haar, na Jesus en dan na mekaar.

Ek wonder wat in Jesus se gemoed omgegaan het toe Hy na haar, en na hulle, gekyk het.

As jy egter al ooit gewonder het wat ware aanbidding is – hier sien jy dit nou.

Gebed: “Ek kan nie anders nie, Here, as om voor u voete neer te val en U te aanbid. Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.