Gedagte vir die dag: Die Here is altyd daar

Psalm 44:24 – Is U nog daar, Here? Slaap U? Hoekom doen U dan niks nie? Gryp in! Moenie ons wegstamp nie!

Daar is baie dinge wat God kan doen – Hy is immers die Almagtige. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Weet ook verseker dat God nooit sonde kan doen nie en dat Hy nooit sluimer of slaap nie. Tog gebeur daar baie dinge in ons lewens wat maak dat ons roep en roep na God. Ja, daar is selfs tye wat jy in en uit desperaatheid na Hom roep. Wanneer Hy nie reageer en antwoord soos wat jy gedink het nie, voel dit vir jou asof God slaap. As jy al so gevoel het, wil ek vir jou sê baie welkom by die klub van gewone mense, gewone gelowiges. Iewers in ons almal se lewe is dit ons ervaring. Selfs sy dissipels het dit al beleef. Hy is SAAM met hulle op die boot toe die storm opkom. Terwyl die wind stil was, het hulle Hom nie nodig gehad nie. Maar toe die storm opsteek, raak hulle desperaat en beangs. Hulle maak Hom wakker in hulle benoudheid en met enkele woorde maak Hy die wind en die storm stil. Wat is die storm in jou lewe? Wat is dit wat jou desperaat laat roep? Ontspan, God slaap nie. Immanuel is by jou. Jou Herder hou jou vas. Hy is bewus van die fynste detail van jou lewe. Hy speel nooit wegkruipertjie met jou nie. Hy is altyd te vind, altyd daar, Hy dra jou.

Gebed: Here, dankie dat U my vashou. Dankie dat U nie speletjies speel met U kinders nie. Dankie dat U altyd wakker is en van alles in my lewe deeglik bewus is.

God se teenwoordigheid waar ons spartel in die vloed is beter as om sonder Hom te wees op ʼn veerboot. – Charles H Spurgeon

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.